Monday, December 24, 2007

Rolprent revue - Bee Movie

Die Bee Movie speel tans orals in ons teaters. Omdat dit ons as ouers se verantwoordelikheid is om te weet waarnatoe ons ons kinders stuur om oa te kyk, deel ons graag met julle 'n opsomming oor die rolprent en watter lesse indien wel, geleer kan word hieruit.


Opsomming van die film

Barry Benson berei voor vir sy By kollege graad, maar ontdek dat die werk wat hy kies, vir altyd sy werk by Honex sal wees. Hy is nie teverede met die vooruitsig nie en besluit om buite die korf moontlikhede te ondersoek.

Barry vlieg uit, en is eintlik nie veronderstel om dit te kan doen nie en land in ‘n reënstorm. Hy soek skuiling en doen ‘n noodlanding in Vanessa, ‘n bloemiste, se woonstel. Hy beland in advokadodip en word opgeskep om geeët te word, maar Vanessa slaag daarin om Barry te red en laat hom vry deur dieselfde venster waar hy ingekom het.

Vanuit sy oorweldigende gevoel van dankbaarheid teenoor Vanessa wat sy lewe gered het, breek Barry die een groot reël, nl. om nooit met mense te praat nie, en bedank haar. Daar ontstaan ‘n vriendskap tussen Barry en Vanessa wat in ‘n soort fassinasie met mekaar ontwikkel. Dit lei weer tot konflik in Vanesse se verhouding met haar kêrel, Ken.

In die wêreld buite die korf, ontdek Barry hoe die mensdom bye se hoofbron, heuning, tap en is ontsteld om te sien hoe die bye op die heuningplaas misbruik word om heuning te maak en dan uit die korf gerook word. Geskok deur die bye se werksomstadighede begin Barry veg vir hulle belange. Teneinde die aanvraag na heuning met 50% te sny, begin Barry ‘n veldtog om alle skadelike en negatiewe verwysings na en nabootsings van bye te beeïndig. Hy wen die veldtog en die bye bekom alleenreg op heuing en stroop die vermaakkunstenaar, Sting, van sy verhoognaam. Die bye het skielik meer heuning as wat hulle ooit kan vervaardig en hou op werk. Omdat hulle nie meer heuning produseer nie, is dit ook nie nodig om stuifmeel te vergader nie en vervul hulle dus nie meer hulle rol om blomme en struike en bome te help bestuif nie. En so ontstaan ‘n wêreldwye tekort aan groen gewasse.

Die skielike afwesigheid van blomme, het ook ‘n effek op Vanessa se besigheid en sy moet haar bloemistewinkel sluit. Dit eis sy tol op Vanessa en Barry se verhouding. Sy probeer hom ontduik om alleen die laaste uitstalling van rose in Pasedena te gaan bywoon. Om te verhoed dat die wêreld alle plantelewe verloor, bring Vanessa en Barry ‘n hele vrag blomplante saam sodat die bye met die bestuiwing kan voorgaan.

Einde van die opsomming


Kommernisse:

Die dialoog is gemik op kinders en volwassenes. Van die dialoog is effens kru maar daar is goeie humor en dit is nie so kras soos in die Shrek films nie.

Ouers mag dit dalk moeilik vind om te verduidelik hoe daar ‘n verhouding kan wees tussen ‘n by en ‘n mensemeisie, maar die verhouding is gebasseer op hulle persoonlikhede en karakters en nie op fisiese aantrekking nie.

Oor die algemeen gesien, is Bee movie een van die baie min veilige rolprente vir gesinsvermaak.

Lesse te leer:

Die werk van elke by is belangrik / ons is gemaak om te dien
In die korf is een by nie belangriker as ‘n ander nie en elke bytjie se bydra is waardevol. So ook het elkeen van ons ‘n gawe ontvang en elkeen se rol in die liggaam van Christus, is belangrik. Soos die voortbestaan van die hele byekorf bedreig is as die bye ophou werk, so verloor die Christene hulle krag en waarde as ons ophou om ons rol te vervul.

Heers oor God se skepping
Die film het nie ‘n bewaring motief nie, maar dit kom baie duidelik uit dat die bye reg hanteer behoort te word. Die bye se waarde vir die natuur staan in skelle kontras met die mense se algemene houding teenoor bye van “maak hom dood”. Die interafhanklikheid van mekaar in God se Skepping word baie sterk uitgebeeld. Toe die bye ophou werk was daar ook nie meer blomme nie en derhalwe ook nie heuning nie. Mense moet nie net die Skepping onderhou nie, maar is ook afhanklik van die Skepping.

Bybelverwysings:

Die werk van elkeen is belangrik / ons is geskape om te dien:

Romeine 12:4-8 Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie.
Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar.
Ons het genadegawes wat van mekaar verskil volgens die genade wat God aan elkeen van ons gegee het. As dit die gawe van profesie is, laat ons dit gebruik in ooreenstemming met die geloof wat ons bely.
As dit is om te dien, laat ons dien. As dit is om onderrig te gee, laat ons onderrig gee.
As dit is om mense te bemoedig, laat ons hulle bemoedig. As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding. As ons ander help, dan met blymoedigheid.
1 Kor 12:12-13 Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.
Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.
Kol 3:14-15: Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakteeenheid saambind.
En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.
Onderhou en heers oor die Skepping

Matt 10:29: "Is twee mossies nie vir 'n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie”.
Genesis 1:28-29 : Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip."
Verder het God gesê: "Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees.

Vrae vir dieper bespreking:

Elkeen se werk is belangrik / Ons is geskape om mekaar te dien
Wat beteken dit om deel te wees van ‘n liggaam? – familie, kerk, gemeenskap
Watter gawes en talente het God jou gegee om ander mee te dien?
As jy ‘n by was, wat sou in die korf gebeur as al die “Pollen Jocks” sou besluit om op te hou werk? Wat van die gemeenskap waarin jy bly. Wat sou gebeur as die onderwysers ophou werk, of die polisie, die brandweermanne, of die winkelklerke?

Heers oor die Skepping
lees Matt 10:29. Is die Skepping vir God belangrik?
Wat dink jy beteken dit om “te heers” oor die Skepping?
dink jy dat God ons geskape het om afhanklik te wees van mekaar? Dat ons mekaar nodig het? Waarom glo jy dit?

No comments: