Monday, June 22, 2009

God kyk altyd na ons

Vanaand kan mens regtig sien dat baie van ons maats alreeds met vakansie is, want selfs die paartjies wat oorbly tel die slapies voordat hulle weggaan. Tannie Sunet met 3 van haar groepie kinders voor ons begin en soos gewoonlik geniet die kinders die sang. Ons is stapsoldaatjies en ons lees ons bybel en bid elke dag sodat ons groot en sterkkkkk word, word hier gesing. Die kleintjies se laaste lessie in die boekie en ons hoor die storie van Petrus in die tronk. Ons leer dat God na Sy mense kyk in alle omstandighede. Ons leer ook van die wapenuitrusting wat ons elke dag nodig het en maak 'n mannetjie met die uitrusting. 'n Engelse maatjie en haar oppasser besoek ons vanaand en werk ywerig saam. Die oppasser is gefasineer deur die les en bestudeer selfs die afrikaanse boekie agterna. Ook ons groter kinders doen vanaand die laaste les van hulle boekie en ons begin met twee speletjies en almal speel lekker saam. Ons lessie gaan oor wanneer die eindfluiting blaas en hoe ons moet uitsien met verwagting na die dag wanneer Jesus weer kom en die wedloop op aarde tot 'n einde kom. Elriza wat hier kuier en volgende jaar self 'n predikant gaan wees, kry ook kans om bietjie met die klompie te gesels. Ons moet die wedloop end-uit hardloop om die oorwinnaarskroon, die lewe saam met God, te ontvang. Ons maats kry elkeen medaljes met 1 Tim 6:12 O "In die goeie wedloop van die geloof moet jy al jou kragte inspan en die ewige lewe as prys behaal."

No comments: