Tuesday, May 27, 2008

ECC - Ons sluit af met 'n piekniek

Gisteraand het die Kindergroep wat Maandagaande by ECC bymekaar kom, afgesluit vir die Abu Dhabi skooljaar. Al is dit reeds baie warm, het ons besluit om bietjie buite te kuier en piekniek te hou. Soos die kinders aangekom het, kon mens gou-gou sien dat die bome die speelplek gaan wees. Hoe dan anders, bome is hier so skaars soos cream soda koeldrank of fizzers. Henry was die eerste een in die boom. En toe om net nog 'n bietjie by te dra tot die pret word daar gaste by die Guest Palace met die helikopter afgelaai (ons het by die Guest Palace parkie gepiekniek) en waai daai heli-wind alles rond. Nelmari en Jessica het in hierdie bome geklim toe hulle baie kleiner was. Nou staan hulle die ander tieners en sms om te hoor hoe laat hulle kom. Klomp van die dogtertjies kies ook 'n boom om op te klim. Dan kom nog twee tieners en twee hondjies aan. Charmaine het haar brakkies ook vir piekniek saamgebring. Hier is Armand, Devon, Nelmari en Jessica. Die hondjies is 'n groot attraksie en almal wil net aan hulle vat. Die arme goedjies is/was glad nie gewoond aan soveel kindershandjies nie. Taffee kyk die dinge goed deur. 'n Ander groepie meisies speel met Didi wat maar net op sy ma se arm wil wees.Wat sal hierdie vier staan en bespreek wonder ek? Klein Emma het vir tannie Corine 'n geskenkie gebring wat sy self uitgekies het. Ek's baie seker dat Corine lekker in die soet "Prinses" badgoed gaan bad (ek kan nie onthou of dit sneeuwitjie of barbie was nie). Ons open en oorhandig dan 'n paar pryse uit:

Getroue bywoning (98 - 100Z%) sertifikate en boekpryse gaan aan:
Thomas (TJ) Jelliman
Megan Tremblay
Ami Tremblay
Daleen van Eeden
Nelmari Holloway
Rikus van Eeden
Daar is ook twee pryse vir Bybeloortreksels gemaak in Arabies en Thailand deur:
Ami Tremblay
Clark Smalberger

Baie geluk julle ouens. Ek weet daar is ouers wat foto's geneem het van die oorhandiging, kan julle seblief vir my daarvan stuur?

Daarna het die kinders geskenkies uitgeruil en geeet. Hier is Emma, Ruanda, Corina, TJ en Santie. Hierdie klompie ook meer ernstig besig om geskenkies en pryse oop te maak as om te eet. Die tieners het 'n hele ent verder by 'n tafel gaan sit en kuier met hulle eet en drinkgoed. Natuurlik moet ek 'n foto van Heleen plaas. Hier sit sy saam met Megan en Ami se mamma Sandra. Na die etery is almal omtrent terug bome toe al het dit begin donker word. Henry hou vir klein Emma vas wat so graag in die boom wil wees. Hy het darem tussen die eerste foto en hierdie een 'n bietjie afgekom. En alhoewel hulle eenkant gekuier het en gemaak het of hulle groot is, word twee tieners tog ook in die boom uitgevang. Hier sit Lizelle en Devon.

Baie dankie vir almal wat gekom het met 'n spesiale dankie vir al die mammas en pappas. Dit was lekker om julle saam met ons te he.

No comments: