Monday, March 23, 2009

Kamp sports, lessies en kos - deel 3

Na ons lekker ontbyt is dit weer tyd vir 'n lessie en hierdie keer vertel Romanus ons hoe die borsharnasse gelyk het in daardie tyd en hoe dit hom beskerm het in tye van oorloe. Ek (Sandra) vertel hulle oa van die armadillo met sy gepanserde klere en demonstreer met twee harte hoe God ons beskerm met die borsharnas van vryspraak. Ons moet Satan se aanvalle van twyfel kan weerstaan sodat ons kan leef vanuit die vryspraak wat geloof in Jesus meebring. Ons moet ons hart beskerm en Onthou, dat God spreek ons vry! In die kleingroepies na die les kom ons in ouderdomme bymekaar waar ons 'n aktiwiteit of bespreking oor die les doen. Hier is van die 14jarige kinders. Tannie Cornel is volgende met die Skoene van bereidheid en vertel hoe ons kinders die evangelie van vrede en goeie nuus van Jesus se oorwinning oor die bose kan verkondig. Efe 6:15 ".... en die bereidheid om die evangeelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete." Romanus het ook vertel van die verskillende skoene wat die soldate gedra het, en hoe dit hulle beskerm het. Vir sports word die stryd tussen die 4 groot groepe voorgesit met die volleybal en krieket. Terwyl al hierdie dinge aan die gang is, is ons kombuisspan besig om met glimlagte op hulle gesigte, in die hitte langs die vuur met die middagete. Hierdie is nie 'n pot waarmee mens speel nie en twee mans sukkel self om dit te dra. En as mens so hard gewerk het aan die maak daarvan, is dit lekker om te sien hoe die kinders die kos geniet. Die skeppers eet terwyl hulle wag vir die "seconds" - die kos was lekker en daar was baie! Die groepe kry dan kans om aan hulle items te werk en dit lyk asof ons in is vir 'n spesiale program die aand .... Dan is dit tannie Tersia en Romanus se beurt om ons van die Skild/vaandel te vertel. Romanus vertel hoe die soldate en legioene uitgeken is aan hulle simbole en tannie Tersia praat oor simbole waaraan ons uitgeken word .... soos ons vlag. Ons geloof in Jesus is 'n banier wat wys aan watter kant ek en jy veg en ons geloof in Jesus is soos 'n skild teen die vyand se aanvalle. Dan het die kinders weer "sports" en oom Greg is een van die mense wat seker maak dat daar genoeg vloeistof vir die kinders by die sportveld is. Hier pak hy van die koelbokse met ys en koeldrank. Oom Andre en tannie Tersia lyk bietjie moeg van in die hitte op die sportveld wees. Tussen-in al die aktiwiteite word daar ook baie lekker gesing deur die kinders en geleer aan nuwe liedjies. Nog 'n lessie en die aandprogram le voor so kom loer weer more na die blog.

No comments: