Die afgelope naweek was daar weer 'n gesamentlike kerkdiens vir die gemeente in die UAE en terwyl die grootmense en ouer kinders die groot diens bygewoon het, het ons jonger maats ons eie kerk gehad.
Ons het so lekker saamgesing en ons jonger maatjies het soos gewoonlik net so hard saamgesing en beweeg.
Vandag het 'n paar van ons groter maats ook kom saam kuier en dit was baie lekker. Lyk nie of hulle die bewegings heeltemal onder die knie het nie.
Oom Leon van Abu Dhabi het ook saam met ons die Camel lied kom sing en van die nuwe maats het ook gou-gou saamgesing. Kyk net hoe mooi beweeg die senior seuns met Jabulani.
Dan dit waarvoor al die maatjies gewag het .... ons superhero's Flatman & Bobbin met nog 'n storie. Vandag gaan dit oor die donut-dief wat hulle 'n tyd terug gevang het. 'n Beriggie in die koerant het vertel dat die dief weens goeie gedrag vroeg uit die tronk ontslaan is, en Bobbin kon dit nie verstaan nie. Sy wou hom net weer gaan vang en in die tronk sit.
Flatman het mooi verduidelik dat mens kan van sleg na goed verander as God ons vergewe en dat mens ander 'n kans moet gee en nie al die slegte goed teen hulle hou nie. Die maatjies het baie mooi geluister en daarna baie vrae gevra.
Van die maatjies het ook 'n kans gevat om vir die twee superhelde drukkies, high-5's, koppe vryf en hulle hande te skud. Ons maats is besig om 'n mooi verhouding met die twee op te bou en luister wat hulle se.
Die storie het vertel van die donut-dief en daarom het ons ook lekker donuts gekry om te eet - en het die maats geeet. Kyk net bietjie na die gesiggies.
Die man bo-regs was bietjie ongelukkig omdat hy nie 'n blou donut kon kry nie - maar het later opgemaak daarvoor deur 2 sjokolade donuts te eet :-).
Ons sluit af met 'n samevat oor ons lessie van die dag. Terwyl ons vir die ouers wag, teken ons ook bietjie.
Volgende week het ons almal weer kindergroep by ons onderskeie bedieningspunte, en ons hoop om AL ons maats te sien. Flatman & Bobbin kom weer vir ons kuier later die maand!
Die maats is bly om mekaar te sien en het baie vir mekaar te vertelle. Met 'n paar nuwe maats, ken hulle nog nie die liedjies so goed nie, maar aan geesdrif ontbreek dit nie.
Gou-gou sing hulle lekker saam aan die liedjies.
Dan is dit tyd vir Flatman en Bobbin se storie en die maats luister aandagtig na die boodskaps soos by die ander punte. God het vir ons almal se sonde gesterf en ons moet Jesus aanneem as ons Verlosser!
Flatman en Bobbin bid dat Jesus hulle sonde vergewe en neem Hom aan as hulle verlosser. Daarna vra hulle die maatjies om ook die gebed saam met hulle te doen.
Van ons bekende liedjies is gesing en van ons "ou" manne, Liam en Nicholas se gunstelinge. Ons klein seuntjies almal besig om te sing, heel links Dawid en regs het ons vir Liam, Nicholas, Lutke en Christiaan.
Dan luister ons na Flatman en Bobbin en hulle boodskap. Soos ek in die vorige blog vertel het, het die twee mos 'n blaadjie opgetel. Daarin lees hulle ook dat almal van ons gesondig het en dat die loon van die sonde die dood is.
Baie benoud besef hulle dat hulle eintlik van super hero's na super zero's verander het. Maar daar is hoop ..... (lees verder in volgende blog)! Die maatjies vra mooi vragies terwyl Dawid absoluut gefasineer is met die poppe.
Na die poppekas word die boodskappie weer 'n keer vir die maats verduidelik en ons praat almal bietjie daaroor.
Dan is dit tyd vir bietjie kuier saam met die maats en ietsie eet, terwyl ons nuwe groepleier, Hermien bietjie met Jean ook 'n groepleier gesels. Hermien gaan vanjaar ons tieners vat en ons beplan groot dinge vir julle!!!
Eers sing ons lekker saam aan nuwe en ou liedjies.
Dan luister ons mooi na Flatman en Bobbin en van die "kode" boodskap wat hulle opgetel het met die woord "Evangelie".
Hulle moet die woord-definisie-masjien vra om die boodskap vir hulle en die kinders te ontsyfer en hoor dat die woord Evangelie beteken "goeie nuus", "positiewe inligting", die teenoorgestelde van sleg en iets die moeite werd om te hoor. Ons maats luister mooi! (vir die verdere storie, lees ook die besoek aan Abu Dhabi en Al Ain wat volg).
Ons jongste maatjies Jeandre saam met pappa Denis en Marli saam met pappa Marius luister ook mooi..
Ons klein maatjies is gefasineer deur Flatman en Bobbin en moet kom ondersoek instel en nader kennis maak. Daar is selfs 'n vragie of twee. Bobbin en Flatman gaan beslis nog groot maats word.
Ons sluit af met die sing van nog 'n paar nuwe liedjies.
Al is van ons maats nog met skoolvakansie, was die paar wat daar was vol geesdrif. Ons het begin deur 'n paar liedjies te sing.
Flatman en Bobbin het 'n blaadjie iewers opgetel en was baie gretig om die inhoud daarvan met ons maats te deel.
Omdat hulle nog met ons anders maats in die Emirate gaan kuier wil ek nie nou teveel vertel nie, maar weet net dat die maatjies met groot ogies en oop ore geluister het!
Na die wonderlike boodskap van ons helde, het die maats kans gekry om bietjie te vertel wat hulle gedurende die ampertjies 3 maande skoolvakansie gedoen het.
Hulle het vir ons prentjies daarvan geteken. En tannie Rensia het ook vir hulle 'n storie van nog 'n held vertel.
Van die maats het toe ook kom vertel. Kyk net daai mooi stokkie-kameelperd wat Waleed geteken het.